Live CD

Live CD van Ubuntu, wat Firefox, OpenOffice.org en Pidgin insluit

'n Live CD is 'n rekenaarbedryfstelsel wat direk kan hardloop vanaf 'n CD/DVD wanneer 'n rekenaar aangeskakel word. Dit is dus nie nodig om die bedryfstelsel op die rekenaar se hardeskyf te installeer nie. Ander draagbare media soos flitskywe word ook gebruik om bedryfstelsels te versprei.

Die "Live" verwys na die feit dat sulke verspreidings van die bedryfstelsels 'n volledige, funksionele, werkende bedryfstelsel op die verspreidingsmedium bevat. 'n Live CD verander nie die lêers van die bedryfstelsel wat reeds op die rekenaar geïnstalleer is nie tensy die programmatuur aangesê word om dit te doen. Sulke verspreidings sluit dikwels ook die meganismes en nutsprogramme in om permanente installering moontlik te maak, insluitende programme om partisies op die hardeskyf te skep. By verstek kan die gebruiker egter die rekenaar maklik na die vorige bedryfstelsel terugkeer deur bloot die LiveDistro uit die CD-drywer te haal en die rekenaar weer laat laai.

Die CD's maak dit tipies ook moontlik om die sagteware geheel en al slegs vanaf die RAM te hardloop ('n RAM disk). Dit bring egter mee dat die werkverrigting van die programme ietwat daaronder ly. Daar is selfs 'n paar LiveDistro's met 'n grafiese koppelvlak wat so min as 32MB RAM gebruik.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne